Geskiedenis

Die verhaal van hoe die Hugenote Gedenkskool van ondergang gered en gerestoureer word vervat in die volgende twee artikels wat in Die Burger verskyn het.

Gedenkskool der Hugenoten van 1882 gerestoureer

UIT: KultuurKroniek: Die Burger, 22 Desember 2001.
Bakermat van Afrikaanse taal in ere herstel.
MARTHINUS VAN BART

Die grootste projek naas die Helpmekaar Studiefonds Kaapland van 1917 en die jaarlikse Die Burger-Kersfonds waarby Naspers regstreeks betrokke was, die restourasie van die historiese Gedenkschool der Hugenoten op Kleinbosch in Dal Josafat, is in Desember 2001 met groot welslae afgehandel.

Die Victoriaanse dubbelverdiepinggebou van 1883 is ten volle gerestoureer vir gebruik as slypskool vir Afrikaans en ook as gastehuis.

Die Genootskap van Regte Afrikaners onder leiding van ds. S.J. du Toit het in 1882 die Gedenkschool der Hugenoten op Kleinbosch gestig. Klas is aanvanklik in ‘n buitekamer gegee, maar daar is dadelik begin om die ou wynkelder in ‘n dubbelverdiepingskool te verander. Dit is op 1 Februarie 1883 ingewy.

Onder sy leerlinge was die latere taalstryders Daniël Francois du Toit (Totius), D.F. Malherbe, A.G. Visser en P.J. du Toit. Nog ‘n leerling was Abraham Izak Perold, latere stigter van die SA wynbedryf (KWV), en D.F. (Danie) Malherbe, latere medestigter van Onderstepoort.

Die Genootskappers het gereeld op Kleinbosch vergader, en hier het die Afrikanerbond, asook die eerste Afrikaanse koerant, De Patriot, en tydskrif, Ons Klyntji, hul beslag gekry. Die Eerste en Tweede Afrikaanse Taalbewegings het hier begin.

Die gedagte om die Gedenkskool in ere te herstel, het in die tagtigerjare by wyle W.A. (Bill) de Klerk posgevat. Hy het dit aan ander Paarlse kultuurleiers voorgestel, maar toe word teen De Klerk se sin besluit om die moderne Taalmonument op Paarlberg te bou.

De Klerk het egter nie moed verloor nie en met die samewerking van die Drakensteinse Heemkring is in 1985 die Hugenote-Gedenkskool Trusteeraad gestig. Van die Helpmekaarfonds is R10 000 verkry om ‘n serwituut op die gebou en die terrein daarom te koop en as sodanig by die Meester van die Hooggeregshof laat registreer.

Martiens van Bart en dr. Ebbe Dommisse gesels in 1995 oor die Gedenkskool by die Klein Karoo Nasionale in Oudtshoorn. Fotograaf - onbekend

In 1994 het De Klerk by Die Burger aangeklop om geld vir die restourasie van die gebou in te samel. Ebbe Dommisse, redakteur, het opdrag aan Marthinus (Martiens) van Bart, eiendoms- en kultuurredakteur, gegee om die insamelingsprojek aan te pak. Hy en sy vrou, Edvige, het lede van die Hugenote-Gedenkskool Trusteeraad geword om deur die naweekbylae KultuurKroniek (voorheen Woongids, later WoonBurger) lesers aan te spoor om geld te skenk.

Toe die restourasie beplan is, was die lede van die uitvoerende trusteeraad mnr. Jean Smit, voorsitter, Marthinus van Bart, ondervoorsitter, dr. Carel Stander, finansies en verteenwoordiger vann die FAK, mnr. Christoff Pauw, prokureur, mnr. Gawie en mev. Gwen Fagan van G.T. Fagan Argitekte van Kaapstad, en mev. Edvige van Bart, beplanning Van Bart het ook gesorg vir reklame, geldinsameling en beplanning. Naspers het die projek van meet af aan onderskryf. Die eerste geldskenkers was die destydse Stigting vir Afrikaans, die KWV en die FAK.

Dié geldvra-poging het aanvanklik onvoldoende reaksie gekry en die meeste groot sakeondernemings het geweier om die projek te steun. Van Bart het toe deur KultuurKroniek skilderye, boeke en wyn onder die lesers van Die Burger ingesamel en op verskeie groot veilings verkoop. Die Rapportryers se Di Patriot-korps van die Paarl het ‘n leeue-aandeel in die insameling van die wyn gehad en Simonsvlei het sy vergadersaal kosteloos aangebied vir die veiling. Die veteraan-afslaer mnr. Tokkie Carstens van die Paarl het die twee veilings meesterlik hanteer en duisende rande help inbring. Prof. Wium van Zyl en dr. Abraham H. De Vries het met die boekveilings- en verkopings gehelp.

Die selfdoenkonsep was ‘n wenresep en geldskenkings het spontaan begin inkom. Die teiken van R800 000 is einde 2000 bereik en die restourasie het in die herfs van 2001 onder leiding van die Kaapse argitek Gawie Fagan, bygestaan deur senior vennote mevv. Gwen Fagan en Moira Serritslev, begin. Hulle het hul diens gratis gelewer.

Die res van die projekspan, wat hul diens ook gratis gelewer het, is die projekbestuurder en bourekenaar mnr. Jules von Ahlften van die Paarl, die elektriese ingenieur mnr. Dirk du Toit van Du Toit & Van der Vyver van Kaapstad, die struktuuringenieur mnr. Henry Fagan van Henry Fagan & Vennote van Kaapstad, en die tegniese afdeling van Media 24 wat gesorg het vir die inrig van die kommunikasiegeriewe.

Die gebou is deur die bouaannemer Edel Konstruksie van Maitland teen ‘n koste van R1 206 180 ten volle gerestoureer met ‘n konferensiesaal op die boonste verdieping en ‘n gastehuis met ses kamers onder. Slypskole met Afrikaans as voertaal sal onder meer in die boonste vertrek aangebied word sodat die Gedenkskool ‘n lewensvatbare en lewende monument vir Afrikaans sal wees. Borgskappe sal gevra word vir leerlinge wat nie die kursustariewe kan bekostig nie.

Die nuwe eienaar van Kleinbosch, mnr. Ulrich Froese, is ‘n afstammeling van Franse Hugenote wat na Oos-Duitsland gevlug het. Hy het Malherbe Huis laat restoureer as gastehuis. Hy het ‘n aansienlike bedrag in ‘n trustrekening gestort vir die instandhouding van die Gedenkskool.

Die plaas De Kleyne Bos (later Kleinbosch) van 60 morg is in 1692 aan die Hugenoot Francois du Toit uitgegee. In 1733 erf Andries du Toit die plaas. In 1760 verkoop sy weduwee, Martha Rousseaux, dit aan haar kleinseun Guillaume du Toit, wat die Kaaps-Hollandse opstal in 1792 bo-op sy oupa se oue gebou het.

Die mense hier onder het saam skouer aan die wiel gesit om van die Hugenote-Gedenkskool-restourasieprojek ‘n reuse-sukses te maak. Almal behalwe die bouaannemer het hul diens kosteloos aangebied omdat hulle so baie omgee vir Afrikaans en die Afrikaanse kultuur. Die meeste van die ingesamelde R888 000 is geskenk deur die lesers van Die Burger en Die Volksblad.

Gedenkschool ná 80 jaar heropen
Historiese reddingsveldtog neem 10 j. om af te handel

KultuurKroniek: Die Burger
30 Maart 2002
MARTHINUS VAN BART

Die historiese Gedenkschool der Hugenoten, die eerste Christelik-nasionale Afrikaanse skool in die land, is op 25 Maart 2002 ná tagtig jaar weer in gebruik geneem.

Die verrigtinge is deur sowat veertig mense, waaronder lede van die Hugenote-Gedenkskool Trusteeraad, Naspersers en joernalistiekstudente van die Universiteit van Stellenbosch bygewoon.

Ná die verwelkoming deur mnr. Conrad Sidego, skakelhoof van Naspers, het kort toesprake gevolg deur mnre. Ton Vosloo, nie-uitvoerende voorsitter van Naspers, Ebbe Dommisse, voormalige redakteur van Die Burger, en Marthinus (Martiens) van Bart, eiendoms- en kultuurredakteur van Die Burger.

Daarna het prof. Lizette Rabe, hoogleraar in joernalistiek aan die US, prof. Fritz Ponelis, afgetrede hoogleraar in Afrikaans en Nederlands aan die US, en dr. Herman Wasserman, dosent in Afrikaans, lesings oor Afrikaans aan die studente gegee.

Daarmee is die eerste keer sedert 1910, toe die skool gesluit is, weer formeel daarin klas gegee.

Die gebou is oorspronklik in 1883 as enigste Afrikaanse skool in die land ingewy. Ná Uniewording, toe Afrikaans as voertaal ook in staatskole aangebied is, het sy nut grootliks verval en het die gebou as plaasskuur gedien totdat dit sowat tien jaar gelede byna gesloop is. Die skrywer, dramaturg, regsgeleerde en filosoof, W.A. (Bill) de Klerk, het indertyd by Die Burger om hulp aangeklop en Naspers het ingestem om met ‘n geldinsameling te begin.

Die restourasiefonds het einde 2001 ná ‘n veldtog van tien jaar byna R1 miljoen gehaal en Naspers het die res van die totale boukoste van R1,23 miljoen betaal. Die gebou is kort voor die Kersfees van 2001 ten volle gerestoureer.

Die lesinglokaal word as slypskool en konferensiesentrum vir die bevordering van Afrikaans benut. Elke jaar word die Marie Luttig Gedenklesing aangebied waartydens geldskenkings, uit die trust verkry, aan ‘n verdienstelike Afrikaanse saak geskenk word. Hierdie lofwaardige instelling was op die voorstel van mev. Edvige van Bart.