Marie Luttig-lesing

Geskiedenis van die Marie Luttig-gedenklesing

Dr. Marie Luttig, in lewe ’n Johannesburgse ginekoloog en verloskundige, asook ambassadeursvrou in Londen en Oostenryk in die 1960′s, het by haar afsterwe in 1997 ‘n aansienlike bedrag vir die bevordering van Afrikaans nagelaat.

Die Luttig-trust het in 2000 belanghebbendes genooi om aansoek te doen om toekennings uit dié nalatenskap. Die boedelberedderaar, J.F. van Graan & Van der Wateren Prokureurs van Thabazimbi, het die aansoeke gehanteer.

Mnr. Marthinus van Bart, ondervoorsitter van die trusteeraad van die Hugenote Gedenkskool op Augusta Kleinbosch in Dal Josafat in die Paarl, se aansoek om ’n jaarlikse skenking was geslaag.

Die voorstel van ’n oudtrusteeraadslid, mev. E.S. van Bart, dat die raad ’n Marie Luttig-gedenklesing in die lewe roep en dat die jaarlikste skenking uit die Marie Luttigfonds vir die bevordering van Afrikaans in onder meer die mediese wêreld aangewend word, is eenparig deur die raad aanvaar.

Mnr. Jean Smit, voorsitter, het voorgestel dat die gedenklesing elke jaar op of naby die herdenkingsdag van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA-dag), 14 Augustus, as ’n prestige-geleentheid in die Hugenote Gedenkskool se konferensiesentrum in Dal Josafat gehou word.

Prof. J.C. (Kay) de Villiers, afgetrede neurochirurg en hoogleraar in neurochirurgie aan die Universiteit van Kaapstad, is genader om die eerste Marie Luttig-gedenklesing te lewer. Die tema van sy gedenklesing was “Hugenote-geneeskunde aan die Kaap”.

Die eerste Marie Luttig-skenking van R10 000 is by die geleentheid gedoen aan die hersieningsprojek van die Woordeboek van Afrikaanse Geneeskundeterme (WAG). ’n Tjek vir dié bedrag is deur dr. Carel Stander, finansiële bestuurder van die Hugenote Gedenkskool se trusteeraad, aan die hersieningsredakteur, prof. Jan de V. Lochner, oorhandig. Hy het die gehoor van 30 mense, waaronder medici en taalkundiges, oor die projek toegespreek.

Die eerste redakteur van die WAG , prof. Andries Brink, was ook teenwoordig.

(Inligting verskaf deur Marthinus van Bart, bewaringsjoernalis en stigtersraadslid van die Hugenote Gedenkskool.)

Wie is die begunstigdes van die Marie Luttig-fonds?

Die trusteeraad van die Hugenote Gedenkskool, as begunstigde, skenk elke jaar by geleentheid van die Marie Luttig-gedenklesing ’n bedrag geld aan ’n organisasie of projek wat Afrikaans bevorder.

Vorige ontvangers was die Woordeboek van Afrikaanse Geneeskundige Terme (WAG), die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en die Helpmekaar Studiefonds Kaapland en die Langenhoven-trust, wat dit aangewend het vir die oprigting van die nuwe Arbeidsgenot kulturele sentrum, Die Neelsie, op Oudtshoorn.

Die Gedenkskool se Skerpskryf-projek vir Afrikaanse leerders was sedert 2011 die begunstigde.

Lesing-aanbieders van die Marie Luttig-gedenklesing

Die eerste aanbieder van die Marie Luttig-gedenklesing, in 2004, was prof. J.C. (Kay) de Villiers, afgetrede neurchirurg van Kaapstad.

Die ander sprekers was:

  • 2005 – Prof. J.C. (Jaap) Steyn, Afrikaanse literator van Bloemfontein.
  • 2006 – Prof. Elize Botha, letterkundige en kanselier van die Universiteit Stellenbosch.
  • 2007 – Johann Rossouw, uitvoerende beampte van die FAK en redakteur van Die Vrye Afrikaan.
  • 2008 – Prof. Richard van der Ross, oud-rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland.
  • 2009 – Prof. Ampie Coetzee, Afrikaanse taalkundige.
  • 2010 – Prof. Pieter Kapp van die Universiteit Stellenbosch.
  • 2011 – Prof. WAM (Wannie) Carstens, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad.
  • 2012 – Prof. Theuns Eloff, rektor van die Noordwes Universiteit.
  • 2013 – Prof. Dorothea van Zyl, Hoof van die Woordfees in Stellenbosch.
  • 2014 – Prof. Wium van Zyl, emeritus-professor in Afrikaans en Neerlandistiek.
  • 2015 – Bun Booyens, redakteur van Die Burger.
  • 2016 – Karen Meiring, MNET: Direkteur kykNET-Kanale.

Wie is Marie Luttig?

Dr. Marie Schuijt van Castricum, is op 23 Januarie 1904 in Appeldoorn, Holland, gebore. Haar vader, J.J.S. (Koos) van Castricum, vermoedelik ’n landdros van Groningen, het met sy gesin na Suid-Afrika geëmigreer en hulle het hulle op Heidelberg in die destydse Transvaal gevestig.

Marie het aan die Heidelbergse Volkskool gematrikuleer en het daarna medies aan die Universiteit van Groningen in Holland en aan die Royal Free Hospital of London studeer. In 1931 is sy as huisdokter terug na Suid-Afrika. Sy het 7 jaar lank in Benoni aan die Oos-Rand gepraktiseer voordat sy in 1938 terug na Europa is om haar as spesialis in ginekologie te bekwaam. Vanaf 1939 het sy as spesialis in ginekologie en verloskunde in Johannesburg gepraktiseer en in die bestuur van die Algemene Gesondheidsraad van die Reddingsdaadbond gedien.

Op 26 Junie 1939 is sy met Hendrik Gerhardus Luttig, bestuurder van die Helpmekaar-Korrespondensiekollege en hoof van die Trans-Afrikaanse Korrespondensiekolleges getroud. In 1934 en 1935 was hy verbonde aan die Africana-museum (nou MuseumAfrika) in Johannesburg. Hy het tot die politiek toegetree en is verkies tot NP-volksraadslid vir Mayfair. Later is hy as Suid-Afrika se ambassadeur in Oostenryk aangestel. Hy is op 13 Julie 1975 oorlede en Marie op 14 Januarie 1987.

Sy het haar aansienlike boedel in ’n trust, die Marie Luttig-trust, vir die bevordering van Afrikaans nagelaat.