Wen met Skerpskryf in Afrikaans!

Talle kontantpryse op die spel vir leerders in Drakenstein

Kan jy met woorde goël, sinne optower en oorspronklike gedagtes aan mekaar timmer? Dan is die agste ‘Skerpskryf in Afrikaans’, ’n skeppende skryfkompetisie vir graad 7-, 10-, 11- en 12-leerders van Drakenstein, die perfekte plan vir maklike kontant in die hand. Inskrywings is boonop gratis, dus kan deelnemers nét wen.

Die kompetisie word aangebied deur die Hugenote Gedenkskool in Dal Josafat in samewerking met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl. In 1883 was die Gedenkskool die eerste skool in Suid-Afrika waar Afrikaans amptelik as onderrigmedium aangewend is.

Deelname is maklik en tot voordeel van elke leerder wat in Afrikaans skryf. Dit sal boonop help om belowende jong skrywers te identifiseer. Die finaliste en hul onderwysers sal genooi word na ʼn prysoorhandiging by die Hugenote Gedenkskool waar hulle sal deelneem aan ’n werksessie met bekende skrywers, joernaliste en blogskrywers oor die vele aspekte van skryf in Afrikaans.

Daar is twee kategorieë: Graad 10-, 11- en 12-leerders moet ʼn opstel van tussen 250 en 300 woorde skryf oor die volgende onderwerp: Wil jy graag in Afrikaans of Engels, of in een van die ander landstale, skoolgaan en hoekom? Graad 7-leerders moet ʼn opstel van 200 woorde oor dieselfde kwessie skryf.

Leerders én skole kan ʼn hele paar pryse wen. Die algehele hoërskoolwenner kry R1 000 kontant asook ’n R1 000-koopbewys vir Afrikaanse boeke. Die twee wenners in die skeppende en taalkundige afdelings wen elk R500 kontant asook ’n R500-koopbewys vir Afrikaanse boeke. Die algehele laerskoolwenner kry R500 en die eerste twee naaswenners R300 en R200 elk. Al drie wen ook ’n boek as prys. Die ses wenners se skole ontvang ook elk ’n koopbewys van R500 vir Afrikaanse boeke. Die persoon wat die wen-inskrywing aangemoedig het, sowel as die onderwyser wat die meeste inskrywings instuur, ontvang elkeen R500.

Leerders kan by hul Afrikaansonderwysers uitvind hoe om in te skryf. Wenners van die vorige jare kan weer inskryf, maar sal nie in aanmerking kom vir pryse nie. Inskrywings moet teen 28 Julie 2018 ingehandig word by Verinque Hendriks in die Afrikaanse Taalmuseum te Pastorielaan 11, Paarl. Vir navrae en elektroniese inskrywings, kontak haar op 021 872 3441 of vakkundige@taalmuseum.co.za.

 

Skerpskryf: Sedert 2011

 

Skerpskryf is ’n skeppende Afrikaanse skryfkompetisie vir Afrikaanse leerders in gr. 7-, 10-, 11- en 12 in Drakenstein en word jaarliks aangebied deur die raad van trustees van die Hugenote Gedenkskool in samewerking met die Afrikaanse Taalmuseum- en monument in die Paarl.

Die doel van die kompetisie is om leerders se skeppende taalvaardigheid in Afrikaans te stimuleer deur storielyne rondom sekere temas te ontwikkel en te skryf. Leerders moes al artikels (2011), nuusberigte (2012 en 2013), resensies (2014), gedigte (2015), opstelle/blogs (2016) en ‘n verslag/e-pos (2017) skryf.

Besonderhede oor die betrokke jaar se kompetisie word in Februarie elke jaar die media en by skole bekendgemaak sowel as op die Gedenkskool en Afrikaanse Taalmuseum en –monument se webtuistes en Facebookblaaie. Die skerpskryfsessies vir die dertig finaliste en hul onderwysers vind gewoonlik in Oktober plaas.

Meer besonderhede kan gekry word by Janine Brown by die Taalmuseum in Pastorielaan 11, Paarl. Sy kan gekontak word vir navrae by 021 872 3441 of e-pos navraag.

Skerpskryf 2017: Deelnemers aan die werksessie by die Afrikaanse Taalmuseum
skerpskryf 2016 taalmuseum hugenote gedenkskool (97)
Skerpskryf 2016: Deelnemers aan die werksessie by die Hugenote Gedenkskool
skerpskryf 2015 (5)
Skerpskryf 2015: Aanbieders en wenners by die werksessie by die Hugenote Gedenkskool
Skerpskryf 2014 Skerpskrywers by die werksessie in die Hugenote Gedenkskool
Skerpskryf 2014: Skerpskrywers by die werksessie in die Hugenote Gedenkskool
Skerpskryf 2013 Die skrywer en avonturier C. Johan Bakkes saam met die Skerpskrywers.
Skerpskryf 2013: Die skrywer en avonturier C. Johan Bakkes saam met die Skerpskrywers.
Skerpskryf 2012
Skerpskryf 2012
Skerpskryf 2011 Catherine Snel (Afrikaanse Taalmuseum en –monument en ook lid van die raad van trustees van die Gedenkskool), Michelle Linnert (joernalis en rubriekskrywer – aanbieder), Annemie Niewoudt (derde plek) - Hoër Meisieskool La Rochelle), Anél Watson (Wenner - Hoër Meisieskool La Rochelle), Douwleen Bredenhann (skrywer - aanbieder) en Janine Brown van die Taalmuseum). Fotograaf – Francois Lötter
Skerpskryf 2011: Catherine Snel (voormalige trusteeraadslid), Michelle Linnert (joernalis en rubriekskrywer – aanbieder), Annemie Niewoudt (derde plek) – Hoër Meisieskool La Rochelle), Anél Watson (Wenner – Hoër Meisieskool La Rochelle), Douwleen Bredenhann (skrywer – aanbieder) en Janine Brown van die Afrikaanse Taalmuseum).